Slowakiese vrou wen rondte een in verkiesing

Zuzana Caputova, die dame wat verbete veg teen korrupsie in Slowakye, het die eerste ronde stemming as presidentskandidaat gemaklik gewen.

Dit is die eerste keer dat ’n vroulike kandidaat so goed vaar in ’n presidentsverkiesing, en het ’n gemaklike voorsprong op haar teenstanders.

Die presidentsverkiesing sal egter ’n tweede rondte vereis wat op 30 Maart gehou word aangesien sy nie ’n volstrekte meerderheid in die eerste rondte behaal het nie.

Zuzana Caputova is bekend vir haar sterk standpunt en hewige kritiek teen die regerende party en het in die eerste rondte van stemming net meer as 40% van die stemme gekry teenoor haar naaste teenstander se minder as 19% steun.

Die 45 jarige dame het haar veldtog gevoer deur klem te lê op die korrupsie wat die land kniehalter, en beloof om dit met wortel en tak uit te roei.